
=====================================================================
Jan Schutte: 'n Huldeblyk (AV 6:1)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Jan Schutte: 'n Huldeblyk -- 15 Januarie 1999

Jan Schutte   se lewe was in baie opsigte soos 'n fyn geslypte diamant met baie fasette. Met al die talente wat hom beskore was, kon hy met 
ewe veel gemak 'n loopbaan as akteur, sanger, akademikus of skrywer gevolg het. Maar hy het die uitsaaiwese gekies, waar hy al die talente 
kon gebruik en hom ten volle kon uitleef.

Ons het dikwels gepraat oor watter genade dit is om in 'n loopbaan te kom waar jy onmiddellik voel dit is wat ek wil doen en ek wil dit vir 
niks verruil nie.

Jan se loopbaan in die SAUK het in 1946 begin as organiseerder van jeugprogramme en in 1981 met sy uittrede as direkteur-generaal van die 
SAUK geindig.

Daar was in die 35 jaar enkele jare se onderbrekings toe hy in die buiteland navorsing gedoen het vir sy doktorale proefskrif oor die 
radiodrama, en ook sang bestudeer het onder beroemde leermeesters soos Elena Gerhardt in Londen en   later Maria Hittorf in Wenen.   Maar 
29 jaar lank het hy hom op sy eerste liefde toegespits en hom op vele terreine van die uitsaaiwese onderskei.

Hy het gesorg vir die goue jare van die radiovervolgverhaal met Die Du Plooys van Soetmelksvlei, sekerlik die grootste   treffer wat nog 
oor die Afrikaanse radio uitgesaai is en wat lank reeds klassiek geword het in die radioliteratuur in Suid-Afrika.

Eintlik het alles wat hy geskryf, voorgelees of voorgedra het, die stempel van onvergeetlikheid gedra. Hy het die vermo gehad om mense tot 
stilstand te bring en hulle werklik te laat luister.

Sy deernis met en begrip vir bejaardes en die fyn humor waarmee hy hulle gesien het, het aangrypend gespreek uit reekse soos Briewe van 
tant Magrieta en   Groete van Vader, twee reekse wat soos die Du Plooys   later gepubliseer is.

Ek kan ook onthou hoe hulle op 'n keer sy voorlesing van Eitemal se boek Jaffie vroegerig in die oggend uitgesaai het en ek, soos menige 
ander, in die motor op pad werk toe daarna geluister het. Meer as een oggend moes ek eers 'n rukkie in die parkeergarage bly totdat ek 
ophou snik het. Hy het baie lekker gekry toe ek hom daarvan vertel het.

As akteur het hy talle hoogtepunte beleef, weer met die stempel van onvergeetlikheid. Vir radio dink 'n mens aan sy vertolking van Tiberius 
in Germanicus van   N.P. van Wyk Louw, en op die verhoog hoofrolle teenoor   Anna Neethling Pohl   in Periandros van Korinthe van   D.J. 
Opperman, en   Die Besoek van die Dame van   Drrenmatt. Hy het ook teenoor Wilna Snyman   in Spoke van   Henrik Ibsen gespeel.

Daar was etlike optredes in operaproduksies en sanguitvoerings oor die radio en op die verhoog.

Sy poste in die SAUK het egter al hoe meer senior geword en soos so dikwels gebeur, het hy al verder wegbeweeg van die skeppende dinge wat 
hy die graagste gedoen het.

Maar ook in die bestuursposte met al die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan, het hy hom onderskei en nooit sy gevoel vir programme en 
respek vir die mense vir wie ons uitsaai, verloor nie. Ongergde, saamgeflanste programme, afskeepwerk, slordige taalgebruik met die 
foutiewe uitspraak van name of woorde het hy nie geduld nie en het di dissiplines oorgedra na televisie, waarby hy lank voor die amptelike 
instelling betrokke geraak het.

Die navorsing in verband met televisie het reeds in 1965 begin. Hy het ten nouste daaraan saamgewerk en in 1969 is hy aangestel as die 
sekretaris van die kommissie wat die moontlikheid van televisie in Suid-Afrika moes ondersoek. Uiteindelik het hy aan die spits gestaan van 
die proefuitsendings en die amptelike instelling van televisie op 5 Januarie 1976.

Almal wat saamgewerk het aan die aanloop tot televisie en in die vroe jare n die instelling, toe Jan nog betrokke was, het saamgestem dat 
ten spyte van die harde werk en verskriklike senuweespanning dit 'n wonderlike bloeitydperk was toe die nuwe regisseurs en programmakers 
toegelaat is om hulle verbeelding vrye teuels te gee en te eksperimenteer.

In 1981, vyf jaar n die instelling van televisie, het Jan met pensioen uitgetree en 'n nuwe fase van sy lewe het begin. Hy het sy 
radiovervolgverhaal Sondaarspoort vir televisie verwerk, die regie gedoen en   een van die hoofrolle gespeel.

Hy is ook aangestel as voorsitter van die kommissie van ondersoek na die bevordering van die skeppende kunste. Die Stigting vir die 
Skeppende Kunste het daaruit voortgevloei en hy is aangestel as voorsitter van die direksie.

Maar daar was nog 'n faset van die ryk, vol lewe van Jan Schutte. Dit was sy lewe buite die uitsaaiwreld en amptelike pligte en 
toekennings en eerbewyse, waarvan daar baie was: onder meer 'n erepenning in die uitsaaiwese en die uitvoerende kunste van die SA Akademie 
vir Wetenskap en Kuns en in 1992 die Orde vir Voortreflike Diens (goud).

Hierdie ander faset was sy intense belangstelling in en kennis van die kunste, musiek, die teater en die letterkunde: veral die Afrikaanse 
letterkunde. Ek glo nie daar het 'n nuwe boek verskyn wat hy nie gelees het, of ten minste kennis van gedra het nie. Hy het graag en 
uitgebreid gereis. Hy was 'n baaskok en 'n wonderlike gasheer. Hy het die slag gehad om met sy spitsvondigheid en skerp humorsin van enige 
geleentheid 'n fees en iets besonders te maak. Vriendskap was vir hom kosbaar en hy was 'n lojale vriend wat tyd ingeruim het vir sy 
vriende. Vir menigeen was hy ook 'n steunpilaar wanneer moeilike tye gekom het.

Jan was baie geheg aan sy familie. Sy broers het hom vroeg ontval en vir hulle kinders was hy in baie opsigte soos 'n tweede pa. Op hulle 
beurt het hulle hom met groot liefde en toewyding bygestaan. Niks was vir hulle te veel moeite nie en hy het dikwels gepraat oor hoe goed 
hulle vir hom is.

Die afgelope ongeveer tien of meer jaar was hy uitgelewer aan die aftakeling van Parkinson se siekte, maar hy het positief gebly en nooit 
gekla nie. Sy gees het helder en wakker soos altyd gebly en hy het selfs aanhou skryf aan 'n radioverhaal tot aan die einde van sy lewe.

Jan Schutte laat 'n leemte in ons lewens, 'n leemte wat waarskynlik met die verloop van jare selfs groter sal word, maar ons sal hom met 
dankbaarheid en vreugde onthou. Verna Vels,   bekende uitsaaipersoonlikheid en skrywer, veral bekend vir haar karakter Liewe Heksie.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av6114.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Maart 1999 /// 'Ek is Afrikaanse Euro-Afrikaan' (AV 6:1) /// Afrikaans, 
jy en die Grondwet (AV 6:1) /// Veeltaligheid gekoester deur jong mense (AV 6:1) /// Geletterdheid (AV 6:1) /// HOOFARTIKEL-- Jaar met nuwe 
uitdagings (AV 6:1) /// Taalervaringe van 'n Duitse immigrant (AV 6:1) /// Afrikaanse posiebron vir Lae Lande (AV 6:1) /// In Verneukpan 
en Boesmanland lf Afrikaans (AV 6:1) /// Onbeskaamd granaatbos /// Toegevoegde teenoor verminderde tweetaligheid (AV 6:1) /// Kortverhaal 
-- Huisdiere (AV 6:1) /// Onderwys-werksessies (AV 6:1) /// Afrikaanse Bybel op die Internet (AV 6:1) /// Jan Schutte: 'n Huldeblyk (AV 
6:1) /// 'Dominee, 'n mooi sin is 'n mooi ding' (AV 6:1) /// Ligter taalmomente oor die grensdraad /// Nuwe era vir Afrikaanse boek (AV 
6:1) /// Op spoor van Maleise invloed (AV 6:1) /// Millennium-blues (AV 6:1) /// Afrikaans kuier oor die drumpel (AV 6:1) /// Hy 
verpersoonlik eerlikheid (AV 6:1) /// Ons lesers skryf (AV 6:1) /// Koningin stap voor in die ry (AV 6:1) /// Di koor gee jou hoop (AV 
6:1) /// Met 'n uitsig op 'n park (AV 6:1) ///

